Dis wonderlik hoe dinge net gebeur en besef ek net elke dag dat hierdie nie net 'n sakekamer projek is nie, maar dat Jesus hier in die middel staan.
Die afgelope 4 jaar het ek al reeds probeer om 'n veilige huis van die grond te kry, maar die sisteme en stelsels het altyd 'n stok in die speek gewees. Met Riaan de Lange van Durbanville Besigheid en De Lange Prokureurs se hulp wat vir ons die Trustakte opgestel het en aansoek gedoen het vir die NPO nommer het dinge begin waar raak.
Met 'n bietjie geld wat ons van die Stad Kaapstad gekry het, was ons by magte om ons eerste huis te huur en weg te spring...
Wel die projek..... hier gaan dit spesifiek om vroue en hul kinders wat blootgestel word aan huishoudelike geweld in ons gemeenskap te kan help, ek het altyd aan die projek as 'n deurgangshuis gedink, maw kry haar uit die huis, kry 'n interdik, en help haar vir die volgende 3 of 5 dae.
Ek het gou besef dit sal seker die grootste fout wees om dit so te doen, ons het met die min ander organisasies in die Weskaap kers opgesteek (daar is maar net 7 ordentlike plekke in die hele Weskaap) en gesien dat so 'n vrou en haar kinders vir ten minste 3 tot 5 maande gehuisves moet word. Dis nodig om haar te help om haar op te hef, en gereed te maak om haar plek weer vol te staan as iemand wat 'n verskil aan haar en haar kinders se lewe kan maak. Maw ons gaan haar help om werk te kry, dalk opleiding te ondergaan en gereed te maak vir die lewe daar buite. Die huis wat ons tans het is baie groot en kan ons 26 vroue en hul kinders huisves.
Dis jammer dat dit die samelewing se plig geword het om betrokke te raak, tog glo ek dis wat van ons verwag word. Ons moet na mekaar omsien, die lewe is maar kort en is ons met 'n doel hier op aarde.
Die projek lê my na aan die hart omdat ek vriendinne het wat vasgevang was in 'n geweldadige huwelik en nie kon uit nie, hul selfbeeld word afgebreek en glo hul dat dit die lewe is, daar was vir hulle geen plek om heen te gaan nie.
As jy dit op jou hart het om in die toekoms as vrywilliger te help, sal ek bly wees en jou op my lysie sit, dit beteken dat ek jou dalk kan nodig hê om miskien af en toe af te los, dalk kan jy die vroue motiveer deur iets wat jy op die hart het, of dalk handwerk of rekenaar klasse aanbied..... daar is so baie.
Op die stadium is finansies seker maar die grootste probleem, ons doen hier absoluut 'n geloofstaak en glo dat dit die Here se projek is en dat Hy sal voorsien.
Ons het ook 'n debietorder stelsel nou in werking waar persone maandeliks 'n geldjie kan gee soos hul hart spreek of eenmalig iets inbetaal.
Indien jy weet van persone of instansies wat ek kan kontak vir fondse sal ek so bly wees as jy my van hul kan sê.
Wel ons bankbesonderhede is as volg:
SOS TRUST
ABSA takkode 334810
Rekening nommer 4070981810
Adri Klindt
083 564 3313
adri@profinsolutions.co.za
Friday, May 30, 2008
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment